Description
Hierdie sal waarskynlik die laaste Mathys Roets-album wees, waarvan daar ‘n ware jakob CD gedruk gaan word.
Wat kan jy verwag? In tipiese Mathys Roets-styl sal daar diepte en warmte wees, maar wat die album anders maak, is dat daar 11 splinternuwe liedjies op is. Vyf van die liedjies is deur Mathys en Matthys Maree getoonset wat ‘n nuwe, vars aanslag gee. Mathys sing al vir jare Piet van Wyk de Vries se unieke musiek en daar is ‘n splinternuwe lied van hom ook in die versameling.
‘n Mathys Roets-album sal nie volmaak wees sonder ‘n Leonard Cohen-lied nie en hy stel nie teleur nie. Cohen se laaste album (wat uitgebring is na sy dood) het ‘n lied ingesluit wat Mathys sterk aangetrek het en hy en Matthys Maree het dit verwerk tot ‘n produk wat Cohen se talent met woorde en Mathys se gawe om Cohen se woorde lewe te gee, tentoonstel.
Mathys word soos altyd ondersteun deur die land se beste musikante om ‘n topgehalte produk te verseker!