Die warm Jeep en die N14 Boereworsrol – 23 April 2021

Om die pad te vat.

Nou ja, dit is nou net oor ‘n jaar na die eerste inperkingstydperk. Op daardie stadium het ons gedink dit gaan 3 weke wees en ons gaan aan. Nooit kon ons die groter impak daarvan voorspel nie. Nooit sou ek kon dink dat ek hoegenaamd so lank kan oorleef en steeds doen wat ek graag wil doen nie.

Wat my kon laat voortgaan was om aan te pas. Net soos 12 jaar gelede na die motorfiets ongeluk. Ek moes aanpas en besef dat ek steeds net ek is en myself steeds kan uitleef.

Gister, 22 April, het ek teruggekeer van ‘n toer wat nou eers halfpad is. Net vir 2 dae by die huis en dan ry ek verder met net ‘n kleiner sirkel binne die groot sirkel wat ek nou net gedoen het. 4500km agter die blad en nog so 3000km om te gaan tot 8 Mei.

Baie dankie vir die ongelooflike toer tot dusver en dat ek na julle toe kan ry.

My eerste dag moes ek ver ry tot in Kareedouw om by Baardbek te sing. Deur Smithfield oor Bethulie se lang brug. Koffie in Cradock maar net vinnig, want die pad is nog lank. Nota: Cradock se konsert is later in April, maar ek gaan langer stop (Sien datum onder).

Ek het my tyd mooi uitgewerk dat ek nie hoef te jaag nie. Maar Kareedouw is altyd verder as wat mens verwag. Natuurlik moet die noodlot ook kom deel in die proses en presies waar ek afdraai van die N2 af besluit die Jeep hy kry warm. Ek besluit om stadig aan te sukkel so afdraende op ‘n slag maar later moes ek hulp inroep. So word ek ingelseep in Kareedouw in so uur voor die vertoning. Die Jeep se waaier wat hard blaas om my aankoms aan te kondig.

Ek kuier sommer lekker buite op die gras die aand by Baardbek. So begin die toer, dis 9 April en ek mik vir die 9de Mei.

Die volgende oggend probeer ons gou loer of daar iets fataal fout is met die Jeep se verkoelingsstelsel. Nêrens is daar ooglopende waterlekke nie en ek ry toe maar voort. Die reis afstande is nou nie te erg nie en die aand sing ek by Keurbooms by my vriend Mel Botes se plek.

Die volgende dag is dit Mosselbaai by Reedvalley. Hulle is uitverkoop en reël sommer ‘n ektra middag vertoning rondom die vure in die Boma ook. Dit bly darem lekker as daar uitverkoop kan staan op besprekings.

Natuurlik die aand laat oppad George toe besluit die Jeep hy kry weer warm. Vroeg die volgende oggend is ek al by Silverton radiators en gesels met Etienne oor waar die moontlike fout is. Baie idees maar kan steeds nie rerig sien waar die water lek nie.

Natuurlik mis ek toe my radio onderhoud by Bokradio in die Kaap. Oppad Kaap toe gaan staan ek weer langs die pad met ‘n warm Jeep wat homself baie onskuldig gedra. Langs die pad was dit seker ‘n effe vreemde gesig met my en die rolstoel en ‘n oop enjinkap. Te kort om rerig te kan sien wat binne aangaan. Na ‘n rukkie se gesukkel kry ek wel self water ingegooi met meer water wat mors soos ek die gat misgooi. Die enigste manier hoe ek weet ek gooi water in die verkoeler in, is as niks water onder die kar uitlek nie. Ek ry weer lekker verder en hou die temperatuur naald soos ‘n valk dop en maak die Kaap sonder probleme.

Volgende op die lys is ‘n radio onderhoud by Tygerberg Radio en ek maak dit die keer Bok Radio toe ook, wat so vriendelik was om my onderhoud ‘n dag aan te skuif, dankie Bok Radio. Daarna vat ek die pad Langebaan to om by Sharkbay Hotel, met die mooiste uitsig, te sing.

Die volgende oggend is ek terug Stellenbosch se kant toe, want natuurlik moet ek ook weer by Drostdy Teater in Stellenbosch sing, daarop kan ek nie uitmis nie. So lekker om te weet daar is nog teaters en mense en dat ek kan aangaan. 

Die wonder van elke aand op ‘n ander plek sing is die vriende wat ek orals maak. So het ek die voorreg gehad om Beyers van Beyerskloof by die Drostdy vertoning te ontmoet. Die volgende dag moes ek net gaan inloer vir ‘n wynproe. ‘n Besonderse ervaring om daar op Beyerskloof die wyn te proe en die stories te hoor. Om nie eers van hul heerlike restaurant te praat nie. Die Kaap raak nou lekker.

Maar die toer moet voort en die lysie moet afgemerk word soos ek vorder. Clanwilliam by Bushman’s Cove is volgende en daar verwag mens altyd iets spesiaals. Dit is die perfekte windstil aand, met ligte teen die kranse en die gehoor wat onder die sterre voor my sit. Cederberge, musiek, lekker kos en ‘n waardeurende gehoor.

Die volgende oggend baie vroeg moet ek in die pad val want ek sing al 12 uur in Springbok. Ek ry op die plaas en staar na die omgewing, droom oor stap in die berge en van foto’s neem. Net 8 km verder kry die Jeep weer warm. Daar is geen sein op die verlate pad nie. Ek moet maar weer self inspring en weer probeer loer of ek die waterlek kan sien. Om ‘n warm verkoelerprop af te haal terwyl jy in ‘n rolstoel sit is nogal moeilik. Ek kan nie weghardloop met net een hand as daai water begin spuit nie. Om nie in sirkels te “hardloop” nie het ek beide hande dadelik nodig. Gelukkig kry ek dit reg en het vars water by my en top weer die water op.

Springbok is ver en ek is agter skedule, maar ek gaan dit nog maak. Maar weereens net so 20km voor Springbok moet ek weer stop. Hierdie keer bel ek vir Koos van Reitz wat gehelp het met die reëlings. Hy bring nog water en bel sommer die insleepdiens ook. Daar is nie tyd om te sukkel nie die mense sit toe al en wag in die saal. Met die toerusting in Koos se kar, is die Jeep opgelaai  en oppad na Kevin toe, die tegnikus in Springbok, en dit op ‘n Sondagmiddag. Ek is net ‘n uur laat. Die wonderlike mense van Springbok is gelukkig geduldig en kon darem al iets eet en drink. Terwyl ek nog sing is Kevin al klaar met die Jeep. Hy het die lek gekry! Die waterpomp lek bietjie as die kar effe harder werk. Hy het sommer die lek herstel en die volgende oggend oppad Pofadder en Pella toe kon ek vir die eerste keer ry sonder om die naald te moes dophou.

Ek slaap in Pofadder en word soos ‘n superster ontvang by die Pofadder Hotel. Die aand sing ek in Pella. Dit is ‘n baie klein gemeenskap en toe hulle my vra of ek by hulle wil sing moes ek dit net doen. Ek glo nie baie ander Afrikaanse kunstenaars het al daar gesing in hulle gemeenskapsaal skuins oorkant die ou Kerkie nie. Ek het baie lanklaas soveel “selfies” en foto’s saam met mense geneem.

Nou in die Noordkaap en baie ver van die huis af en die Jeep wat nie waterlek nie kan ek die omgewing en die lang paaie weer dophou en droom oor wat alles hier gebeur het om die landskap te vorm.

In Kakamas sing ek by Lake Grappa. Dit is droog, met die mooiste sand en duine en hier draai ek af by ‘n bord wat se ski-skool. My vriende lysie word al langer.

Nog net een aand oor, dan kan ek darem 2 aande by die huis slaap voor die toer voortgaan. Vryburg kuier ons in die kerksaal. Almal word vriende om die lekker kos. Ek daag hulle uit om harder saam te sing as Ottosdal se kerk en hulle doen dit met oorgawe. Weereens voel ek soos ‘n superster. Ek kan daaraan gewoond raak dink ek. 😉

Die volgende oggend vroeg is ek op die pad. Die weer het gedraai en dit is eweskielik koud terwyl ek huistoe ry. Die Jeep het ‘n afspraak om sy waterpomp te laat vervang voor ek Sondag weer begin ry.

Dit is te vroeg vir koffie en nog niks is oop nie. Langs die pad probeer ek by al my gereelde plekke stadig ry en inloer, maar Delareyville is nog toe en ook Sannieshof. Ek begin toe maar mik vir koffie en ontbyt in Pretoria.

Anderkant Ventersdorp op die N14 by Carltonville se afdraai sien ek ‘n  Boereworsrol stalletjie en stop dadelik.

Die man vertel my hy staan al jare hier en jy kan hom selfs Google en kry as die N14 Boereworslrol. Terwyl ek so 5 min wag vir die eerstes om gaar te word vertel hy my van spoedlokvalle hier naby en ook hoe ver ons van alles is. My bestelling is reg.

“Dit gaan sappig wees en daar is dalk nog net so pienk strepie in die middel van die wors.” Hy was reg!

Terwyl ek wegry maak ek ‘n nota om weer hier te stop.

So in die ry vat ek my eerste hap. Baie sappig, amper morsig sappig maar hy het my gewaarsku. Ek dink sy naam was Hennie.

Met die perfekte sappige boereworsrol van Hennie dink ek terug aan die afgelope 4500 km. Dankie dat ek na julle toe kon ry om by julle te kan sing. Ek sien klaar uit na die volgende 3000km wat oor twee dae begin.

Hier is die lysie van die opkomende dorpe vir die volgende been, wie weet, dalk sien ek jou vir ‘n koffie, of ‘n boereworsrol. Tenminste weet ons dit gaan nie wees om vir die Jeep water te gee nie!

25 April – Hobhouse – 082 818 0015

27 April – Trompsburg – 082 423 2786

28 April – Burgersdorp – 082 334 1843

29 April – Craddock – 073 325 7883

30 April – Adelaide – 072 7279581

MEI

3 Mei – Graaff Reinet – Coldstream Restaurant – 087 285 4587

5 Mei – Middelburg

6 Mei – Colesberg – Inniekraal – 084 586 9047 / 064 651 1127

7 Mei – Bloemfontein – Aasvoëlklub – 084 559 8991

9 Mei – Pretoria – Atterbury Teater – www.atterburyteater.co.za